Straatwerk
Straatwerk

The love of Christ compels us!
[ 2 Corinthians 5:14 ]
Home :: Stories :: ...want jy is dit werd...
...want jy is dit werd...

Baie ure in 'n mens se ryding verseker dat 'n mens jou toevlug neem tot die radio.  Dan, soos dit nou maar gaan, spring jy van een stasie na 'n ander.  "Die minimum en maksimum temperature..." - tog net nie weer die weerberig nie; "Tonight is the night to be out on town..." - ek werk vanaand, wat help dit om te luister na al die plesierighede; "We don't care, we just don't care..." - John Legend, hy's goed, maar nie nou nie... en so spring ek van een stasie na die ander.  Die prediker preek verwoed, die Klassieke musiek speel luid en ewe skielik 'n inbelprogram, met 'n holruggeryde tema - Hoe lank neem vroue om hulle gereed te kry vir 'n aandjie uit?  Ek luister, want ek hoop vir 'n vars briesie of dalk nuwe invalshoek op hierdie tema... Ek is geskok.  Duidelik is ek in die old school.  Of meer nog, duidelik is ek in THE OLDEST school.

 

Aantrek is nou 'n wetenskap, lyk dit my.  Die dametjie wat die program aangebied het neem 2 ure.  'n Halfuur om hare te doen, 'n uur vir haar grimering en dan nog 'n halfuur om aan te trek, bygesê, dan is daar al in die afgelope week besluit wat om aan te trek. Iewers word daar nog skoongekom ook (bad, stort of wat ookal). Sy neem besluite oor haar klere op grond van die skoene wat sy aantrek want sy het 'n paar skoene vir elke uitrusting.  Wat het geword van 3 paar skoene wat dienlik by alles pas (my ma het my nog geleer van die swart, bruin en kerkskoene)?

Die jong man wat saam met haar die program aanbied sê sy hare vat die langste - 15 minute en hy bad nie voor hy uitgaan nie, want hy sweet in elk geval as hy dans - hy stort as hy terugkom.  Wat hom die langste neem is om te besluit watter styl klere hy gaan aantrek - is dit vanaand retro of meer funk of branded of neutrale klere.

Die lyne gons en party kla oor hoe lank dit neem, party reken die wag is die moeite werd, party vroue kla oor mans wat so lank draai.

"I take an hour to do my make-up because I like detail.  If I do smokey eyes for the evening, I need to know that I have the best smokey eyes in the club.  Later when I go to the bar, I need to know that people will notice the detail from my eyes to my shoes.  When I enter the club I need to know that I will not go unnoticed."

Wanneer ek saam met ons uitreikspanne by die nagklubs rondloop en al die mense sien, dan bly ek wonder: "So poppie, 'n hoeveel uur gesiggie is jy?"

...want jý is dit werd?  Jý is dit werd om mooi klere te dra, jý is dit werd om te knibbel aan gesonde kos, jý is dit werd om 'n persoonlike instrukteur te hê by die gimnasium, jý is dit werd om operasies te ondergaan om gesonder (of mooier) te kan wees en jý is dit werd om tydskrifte te koop met die slagspreuk voorop: 'Because you're worth it!"

Caroline het nie 'n 3 uur gesiggie nie.  Sy het nie eens 'n 15 minute gesiggie nie.  Snye, merke, donker kringe onder die oë, min tande en dienlike afgeloopte swart skoene.  Sy hoes, sy hyg,sy stap swaar, maar sy het die mooiste glimlag wat ek nog ooit gesien het.  Haar hele gesig verander in een groot kreukel as sy lag.  Ek wonder hoe sal sy lyk met smokey eyes?  Detailed smokey eyes?  Siestog, haar oë traan so aanhoudend dat die smokey eyes se mascara seker binne minute op haar kreukel wange sal lê.  Wat 'n spektakel - so much vir smokey eyes.  Los vir Caroline met die vaseline (as daar is) nagroom en vaseline dagroom en vaseline onderlaag en vaseline blusher en vaseline smokey eyes.  Sy is mooi en Caroline, my meisie, you're worth it!

Naskrif:
Ons lewe in 'n tyd waar dit belangrik is om reg te lyk, dit is ook belangrik om 'n gesonde leefstyl te  handhaaf, net so is dit ook belangrik om by die regte plekke gesien te word, because you're worth it. Dit is hoe ons respek toon vir die lewe.

'Vir talle ánder kom sport en pille egter te laat, as omstandighede, lewensstandaarde, werkloosheid, lone, werksure, voeding en behuising reeds hulle gesondheid geknou, tot siekte gelei, selfs die wíl -tot-gesondheid erg geknak het.'

Kyk mooi na jouself, die Bybel sê immers: 'n Gesonde liggaam huisves 'n gesonde gees.  Want jý is dit werd?

Jý is dit eers werd as jou eie wíl tot gesondheid jou dryf om ander te help wat opgegee het op die wíl, bloot omdat dit nie vir hulle haalbaar is nie.

"Ons eie wil-tot-gesondheid moet ook blyk in ons wil om álle mense se lewenstandaarde te verbeter, te verhoog en, indien nodig, radikaal te transformeer.  Indien geen ander weg oorbly nie, moet dit die wil word om die ganse samelewing radikaal anders in te rig, ten einde beter lewe vir almal waarborg.  Waar sommige feitelik onvermydelik siek word en bly, kan ánder van ons nie met 'n goeie gewete gesond wil wees nie.  As ons naaste onafwendbaar siek word as mede gevolg van maatskaplike toestande, gaan dit vroeër of later ons álmal raak - ten spyte van pogings om onself te isoleer, al skyn dié tydelik suksesvol te wees.  As één mens siek is, is die héle samelewing siek.  In die stryd teen siekte kan die laaste woord nooit isolasie wees nie, maar slegs gemeenskap."

Aanhalings uit: Karl Barth, Kerklike Dogmatiek, 60 jaar gelede

 

 

Kies 'n taal: