‘n Bietjie Geskiedenis: [ Click here for English ]
STRAATWERK het in die laat sestigerjare vanuit ‘n kerkjeugvereniging van Wynberg NG Gemeente ontstaan. Hierdie jongmense het elke Vrydagaand bymekaargekom vir bybelstudie en ander Christelike aktiwiteite, maar was bekommerd oor diegene wat nie deel was van hulle groep nie, diegene wat verwerp is deur die samelewing, diegene wat stukkend en seer was en gesmag het na genesing. Hulle het met ‘n geleende kombi, ‘n bak toebroodjies en ‘n primusstofie die liefde van Christus gaan deel met diegene wat vêr weg was van die kerk. Vandag is Straatwerk 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie met steeds 'n baie sterk evangelisasie fokus.
Weens die diversiteit van ons stad is dit ‘n voorreg om te kan uitreik na mense ongeag van ras, ouderdom, godsdiens, kultuur of seksuele oriëntasie. STRAATWERK se werkerskorps weerspieël die ryke verskeidenheid van ons land se bevolkingsamestelling en verteenwoordig 'n verskeidenheid van kerklike denominasies.
STRAATWERK se fokusarea en die ontmoetingspunt met ons teikengroepe is die middestad van Kaapstad, Groenpunt en Seepunt. Opvolgbesoeke word oor die hele Skiereiland gedoen.
Visie
Die Liggaam van Christus in Aksie
Missie
STRAATWERK glo Christus is die Woord van God, Christus is die beeld van God en Christus is die wysheid van God. STRAATWERK glo die Woord van God moet in ons doen en late, in ons manier van wees, in ons interaksie in vervulling gaan:
Die koninkryk van God moet, soos in die hemel, hier op aarde kom.
STRAATWERK beskou dit as ‘n prioriteit om in al ons uitreike na mense in nood, die Liggaam van Christus deur deelnemende en aktiewe betrokkenheid te mobiliseer dat ons fokus altyd konkrete en praktiese lewensopvoeding (hoe om “in Christus” te leef en te beweeg) sal wees.
Dit is vir ons belangrik om:
- sigbaar Christen te wees in die middestad
- diensbaar te wees en nood te help verlig
- te praat namens hulle wat nie self hulle saak kan stel nie
(Spreuke 31:8 en 9)



Dié naglewe het ons aan die “nag” van die sondigheid in die lewe van die naglopers – soos ons hulle genoem het – voorgestel. ‘n Leefwyse waaraan die jeug van ons land al hoe meer blootgestel sou word en waarby sommige onskuldig en ander met oop oë betrek sou word. Baie van hulle sou ons pad kruis. Sommige sou ons vind in smerige, stinkende hole, ander in destydse verbeteringskole, in polisieselle, tronke, inrigtings vir dwelmslawe en alkoholiste, gesellinklubs en talle op die bote in die hawe. Daar was ook van hulle wie se lyke ons in die staatslykshuis sou moes gaan uitken.
In die vertrek waar ons byeengekom het om saam te gesels en te bid, het dit nog goed gegaan, daar tussen ons vriende in die Here. Maar wanneer ons daar uitgestap het, die donker en onbekende in, waar die onrustige, polsende musiek oorverdowend die onsekerheid en rebelsheid van die vasgevangde naglopers gevoed en meegesleur het – dán het dit skielik koud geword buite en was ‘n mens so bewus van jou eie onvermoë en onbeholpenheid. Ons het uit ons plek gevoel. Ja, soms bang in die vreemde wêreld van oorverdowende musiek, die reuk van dagga in die lug en die kruheid van vuil taal in ons ore.
Ds. Pietie Victor)