Diensevangelisasie [ Click here for English ]
Dade van Liefde + Woorde van Liefde + God se perfekte tydsberekening in mense se lewens = die fokus van hierdie uitreike.
Deur diensevangelisasie kom die Kerk en die mense op die strate nader aan mekaar.
Aksie Immanuel (Spesiale Kersfees uitreike)
Vanaf die middel Desember tot Kersdag onderneem ons ‘n verskedenheid van uitreike. Dit is vir talle mense ‘n eensame tyd en die Here stuur ons na die gangetjies en stegies om mense te gaan bedien. Alle teikengroepe word hierby ingesluit. Op Kersdag dien ons ook die personeel en aangehoudenes by die plaaslike polisiestasies met geskenkpakkies.
Paasfeesuitreike
Paasfeestyd neem ons die boodskap van verlossing en vergifnis op verskeie kreatiewe maniere na die strate van Kaapstad. Alle teikengroepe word bedien.
Gereelde Daguitreike
Gedurende ons daguitreike fokus ons hoofsaaklik op drie groepe nl. die haweloses, die vlugtelinge op die markplein en die mense wat klein besighede op straatvlak bedryf. Ons moedig die haweloses aan om deel te neem aan OPHELP Projekte en bemoedig en ondersteun die vlugtelinge en ander wat in ‘n vreemde land moet oorleef. Ons hoofdoel is om Jesus Christus met hulle te deel en Sy liefde op praktiese maniere te kommunikeer.
Die Here roep ons om die stad te dien met die boodskap Jesus Saves. Ons doen dit op ‘n verskeidenheid van maniere bv. om ‘n kroeg se toilette graffiti vry te maak of om vensters en mure te was waar dit vir die winkeleienaar onmoontlik geword het om dit self te doen of om gedurende die koue wintermaande mense te gaan dien met sop en komberse.
Gebed is integraal deel van die daguitreike en al hoe meer gelowiges (van regoor die wêreld) ontmoet gereeld in die hartjie van die middestad om vir Kaapstad, die res van Afrika en die verskillende uitreike, te bid.


