Naguitreike [ Click here for English ]
STRAATWERK se naguitreike het reeds 45 jaar gelede begin om die liefde en omgee van Christus te neem na hulle wat die naglewe van Kaapstad besoek. Ons glo dat die Liggaam van Christus dienend betrokke moet wees tussen hulle wat die naglewe besoek deur die evangelie van Jesus Christus op kreatiewe maniere aan die naglopers oor te dra.
Gebedsuitreike
Ons glo gebed is nie deel van ons werk nie – dit IS die werk.
Gebedspanne bid tussen die mense op straat en by die nagklubs of mense neem eie inisiatief waar hulle ookal hulleself bevind, om vir die uitreike te bid.
Uitreike by die Nagklubs
In al ons uitreike wys ons heen na Jesus Christus wat gekom het om ons te kom dien met Sy lewe. Ons glo deur sigbaarheid en praktiese dienslewering wys ons die Liggaam van Christus is gelyk aan aksie. Ons dra T-hemde of oorjasse met die boodskap Jesus Saves duidelik daarop. Die sigbaarheid van Christene in die middel van die nag op straat maak ‘n wesenlike verskil in die middestad. Deur klein geskenkies te gebruik dra ons die boodskap van Christus oor op ‘n nie-bedreigende manier. ‘n Simboliese heenwysing na die geskenk van ‘n nuwe lewe wat Christus wil gee wat geen geld kan koop nie. Hierdie manier van uitreik skep geleenthede vir persoonlike gesprekke. Ons ruim ook gereeld rommel op tydens ons uitreike by die nagklubs, terwyl ons die Lewegewende Boodskap, met woorde of daarsonder, verkondig: ‘Die strate moet opgeruim word, maar so ook ons lewens.’
Uitreike na die Uitsmyters
Hierdie sleutelfigure van die nagklublewe van Kaapstad kry spesiale aandag in ons naguitreike. Aangesien hulle elke Vrydagnag op dieselfde plek op dieselfde tyd is, en ons uitreikspanne ook, ontstaan daar spontane vriendskappe. Opvolgbesoeke, Bybelstudiegeleenthede en praktiese dienslewering maak deel uit van ons uitreike in liefde na hierdie groot manne.
Uitreike na Mans Vasgevang in Prostitusie
Jong mans, transseksuele mans en verskeie dwelmsverslaafdes raak vasgevang in die web van prostitusie. Meestal staan hulle sonder hoop en moed op die strate. Ons staan hulle by, praat hulle moed in, deel die evangelie en dien hulle op ‘n verskeidenheid van praktiese maniere.
Ontvang van Besoekersgroepe
Ons glo dit is STRAATWERK se roeping om die Liggaam van Christus prakties bloot te stel en te motiveer hoe om die evangelie van Christus op kreatiewe maniere in ‘n vreemde konteks oor te dra. Op Vrydagnagte ontvang ons jeuggroepe, selgroepe en gemeentegroepe van verskillende denominasies oor die wêreld heen om te kom deelneem aan die naguitreike.


