Uitreikbediening na Vroue Vasgevang in
Prostitusie en Hoë-risiko Kinders [ Click here for English ]
STRAATWERK se uitreike na vroue wat vasgevang is in prostitusie het alreeds in die tagtigerjare begin deur uitreike na die vroue in die hawe van Kaapstad. Weens veranderinge en strenger wetgewing in die hawe het vroue nie meer toegang om daar prostitusie te beoefen nie. Huidiglik reik ons uit na vroue wat op straat prostitusie beoefen. Ons vertrou Christus om lewens te verander deur die vroue wat vasgevang is in prostitusie met hulle kinders en die kerk bymekaar te bring.
We trust Christ to transform lives by bringing the women, children and the church together.
Gebed
Gomer Gebedsinisiatief: Regoor die wêreld is daar individue wat vir die vroue se kinders, vroue wat steeds betrokke is in prostitusie, asook vir diegene wat alreeds die Here aangeneem het, bid. Die gebedsondersteuner kry ‘n kaartjie met ‘n naam en gebedsversoeke daarop. Gebedsondersteuners is welkom om ons te kontak vir meer inligting.
Evangelisasie
Straatuitreike: Ons ontmoet die vroue op straat en reik uit deur vriendskapsvehoudinge op te bou en hulle op praktiese maniere te dien. Ons kry vele geleenthede om die boodskap van redding, hoop en die oorvloedige lewe wat daar in Jesus Christus te vind is, te deel.
Krisishantering: Dit is ‘n baie hoë prioriteit om vroue wat die leefstyl van prostitusie wil agterlaat by te staan. Die hulp wat verleen word verskil van situasie tot situasie. Ons verskaf krisisverblyf, kospakkies, hulp met toiletware, klere en vervoer of wat ookal op daardie oomblik nodig is vir die vroue om veilig en versorg te voel. Die meeste van die vroue is ontvanklik vir die evangelie.
Dissipelskap
Gestruktureerde program: Growing in Hope: ‘n Holistiese dissipelskapprogram vir vroue wat vanuit ‘n agtergrond van prostitusie tot bekering gekom het. Hierdie program is ontwerp om hulle te help om in hulle verhouding met Jesus, fisies, sosiaal, emosioneel en intelektueel te groei. Die program fokus ook daarop om die vroue aan te moedig om as deel van ‘n plaaslike kerk te funksioneer en hulle daarvan bewus te maak dat hulle ‘n unieke bydrae kan lewer. Vroue wat getrou die dissipelskapprogram bywoon word ondersteun in hulle praktiese lewensbehoeftes.
Ongestruktureerde program: Bediening aan vroue wat weens een of ander goeie rede nie deel is van die Growing in Hope program nie. Vroue wat alreeds ‘n keuse vir die Here gemaak het word aangemoedig in hulle persoonlike verhouding met die Here asook hulle verbintenis met ‘n plaaslike geloofsgemeenskap. Ons het gereelde kontak met die vroue d.m.v. tuisbesoeke, briewe en telefoonoproepe.
Stories of Living Hope:
‘n Versameling verhale van vrouens wat in prostitusie betrokke was sowel as kinders van die vrouens, wat hulle geloof in Jesus Christus as Verlosser en Here geplaas het. (Die boekie is by STRAATWERK beskikbaar.)
Praktiese lewensvaardighede:
Hope’s up: Met hierdie projek poog ons om vir die vroue wat al ‘n geruime tyd deel is van die dissipelskapprogram, in samewerking met ander instansies, te laat vrywillige werk doen. Hulle word dan vanuit ander bronne vergoed vir hulle werk. In die proses leer hulle waardevolle vaardighede aan.
Hands of Hope: Hierdie projek help vroue om ‘kontant in die hand’ te verdien deur die maak van krale-armbande (wat die evangelieboodskap verduidelik). Hulle word weekliks van materiaal voorsien en moet dan die daaropvolgende week die produk inhandig waarvoor hulle vergoed word.
Kinders
Tuisbesoeke aan families: Ons reik uit na die kinders (wie se ma’s betrokke was / is in prostitusie) in hulle familie-konteks. Ons deel die evangelie in ‘n verskeidenheid van kreatiewe maniere met die kinders en het ook die geleentheid om uit te reik na die res van die familie. Ons staan ook die families op praktiese maniere by wat o.a. kospakkies, skoolfonds, skoolklere ens. insluit.
Kinderaktiwiteite: Deur die skep van spesiale geleenthede word beter verhoudings met die kinders gebou wat help om beter insig te kry in hulle dag-tot-dag uitdagings. Ons maak gebruik van spelterapie waar nodig. Die kinders wat alreeds ‘n keuse vir die Here gemaak het, word begelei in basiese dissipelskap en hoe om getuies in die wêreld te wees.
Voorkomingsprogram
Waardevol vir Jesus Veldtog in laerskole: Skole in geïdentifiseerde hoë risiko areas word besoek en die kinders word gewaarsku teen misbruik, prostitusie en pornografie en vertel van Jesus en die oorvloedslewe wat daar in Hom te vind is. ‘n Sentrale deel van hierdie Veldtog is om aan elke kind, na afloop van die program, ‘n handgebreide poppie te gee om hulle daaraan te herinner dat hulle waardevol is vir Jesus en dat hulle NIE te Koop is NIE.
Aktiewe samewerking met gemeentes: Om die impak van die Veldtog te verhoog is die verhouding tussen die plaaslike kerke en die kinders wat ons bereik van deurslaggewende belang. Die Waardevol vir Jesus Klub* skep ‘n geleentheid vir interaksie tussen die kerk en die kinders. Ons glo dat meer inisiatiewe hieruit sal voortvloei.
*Die Waardevol vir Jesus Klub is ‘n 7 week Bybelstudie wat by skole, as ‘n opvolgprogram vir die Veldtog, geloods word.
Huis van Hoop
By hierdie bedieningsentrum van STRAATWERK vind baie van die genoemde aktiwiteite plaas. In die veilige en funksionele konteks vind baie kinders en vroue hoop en heling.


